Klasse

Groenie Nessie Kleuterskool word bestuur deur die beheerliggaam van Laerskool Tuine.  Ons aanvaar kleuters vanaf die jaar waarin hulle 4 jaar oud word.  Daar is tans 9 klasse, naamlik:

2  graad RRR klasse

3  graad RR klasse

4  graad R klasse

Tasse

Elke kleuter benodig ‘n KLEIN RUGSAKKIE met ‘n ekstra stel klere daarin. Asseblief nie tasse met wieletjies of groot “boks-tasse” nie.  (DIE GROOT TASSE PAS NIE IN DIE RAKKIES NIE).

Alle klere, tasse, skoene en kosblikke moet duidelik gemerk word met u kind se naam en van.

Speelgoed en juwele

Ons vra dat die kleuters geen van hul eie speelgoed en juwele skool toe sal bring nie.  Dit veroorsaak net onmin en ongelukkigheid.

Skooltye

Halfdag : 06:30 tot 14:00 (STRENG)

Voldag : 06:30 tot 18:00 (STRENG)

Die skool begin stiptelik om 07:20. Sorg asseblief dat u kleuter betyds is, aangesien dit ontwrigtend vir die dagprogram is as die kleuters laat inkom.  Stel ‘n goeie voorbeeld vir u kleuter en wees betyds.

Afhaal van kinders

Op die uittekenlys, wat U aan die begin van die jaar ontvang, word almal aangedui wie u kind mag afhaal. Voltooi asseblief die lys volledig. Indien iemand anders as die name op die lys u kind kom afhaal, sal ons u bel.

Laat weet asseblief ook vir ons indien iemand wat ons nie ken nie u kind kom afhaal. Kinders word uitgeteken deur die naskoolpersoneel.  U kind se veiligheid is vir ons baie belangrik.

Geen kleuter mag vóór 12:30 afgehaal word nie, omdat ons nog besig is met ons dagprogram

Afhaal van kinders

Die kleuterskool bied ‘n naskoolfasiliteit op ons terrein vir voldag kleuters aan.  Daar is 4 dames aan diens. Geen formele program word dan gevolg nie, slegs toesig. Naskoolpersoneel kan ook nie help met huiswerk nie. Ons vra dat kleuters wat ‘n halfdagfooi betaal, reeds teen 14:00 afgehaal is. 

Indien u kleuter na 14:00 nog op die terrein is, sal ‘n fooi van R50-00 gehef word vir middagversorging.  Die naskooltoesig geskied tot 18:00, en ons verwag van u om u kleuter BETYDS AF TE HAAL.  ‘n Boete van R50-00 per 15 minute is betaalbaar indien u laat is.

Ouertoegang op die kleuterskoolterrein

Kleuters word af- en opgelaai by die kleuterskool se hek, waar daar toesig is.  Indien u die kantoor wil besoek of ‘n afspraak met ’n juffrou het, is u welkom om in te kom

Etes

Ons maak op alternatiewe dae mieliepap, maltabella en hawermoutpap vir ontbyt. Indien u kleuter bogenoemde pap eet en u verkies dat hy / sy ontbyt by die skool eet, sal dit verskaf word.

U is ook welkom om kitspap in ‘n bakkie saam te stuur, ons sal sorg vir die melk en suiker.  U pak vir u kind sy / haar eie kosblik (gemerk), genoeg vir 2 etes (10:00 en 12:00) indien hy / sy halfdag by ons bly en 3 etes indien hy / sy voldag by ons bly.  Ons gee koeldrank om 11:30 en 14:00.

Geen gaskoeldrank of sakkies koeldrank word toegelaat nie.   Indien u kind se kosblik leeg is, is daar altyd ‘n broodjie vir hulle beskikbaar.  Gekookte kos is ook welkom, ons maak dit met graagte warm.

Pak hoofsaaklik voedsame kos in, aangesien te veel suiker en preserveermiddels u kind se konsentrasie vreeslik benadeel.  ‘n Klein soetigheidjie of koekie kan wel soms ingesit word.

Opvoedkundige program

 

‘n Opvoedkundige program van hoogstaande gehalte word aangebied.  Die dagprogram begin om 07:20 en sluit om 12:30 af. Ons is baie trots op ons gekwalifiseerde personeel.  Sewe van ons onderwyseresse het pre-primêre grade en / of diplomas, en twee onderwyseresse is tans besig met hulle onderwysgrade. 

Ons volg ook die CAPS-kurrikulum vir graad R. Die graad R-leerders volg die Nasionale CAPS-kurrikulum (Curriculum and Assessment Policy Statements) wat uit, geletterdheid, gesyferdheid en lewensvaardigheid bestaan.  Groot klem word op skoolgereedheid gelê, asook om probleemareas te identifiseer en aan te spreek.  Die graad RR en RRR se klasse volg ‘n opvoedkundige program bestaande uit musiek, bewegingspele, persepsie, skeppende aktiwiteite, stories, liedjies, versies, Bybelstories en -liedjies, en bak-en-brou.   

Evaluering word deurlopend gedoen.  Die kleuters ontvang elke kwartaal ‘n vorderingsverslag.  Ons personeel is al jare lank deel van Groenie Nessie, dus hoef u nie bekommerd te wees oor gereelde personeelveranderinge nie. 

Dissipline

Die skool moet ‘n veilige omgewing wees waar kleuters met vrymoedigheid kan speel, leer en sosialiseer.  Daar moet respek vir mekaar en alles om hulle wees.  Waar daar nie dissipline en respek is nie, is daar nie orde nie en kan onderrig nie plaasvind nie.  Ons as personeel kan net voortbou op die boustene wat reeds tuis gelê is.  Die personeel se passie en taak is om te onderrig. 

Opvoeding is egter elke ouer se plig en verantwoordelikheid.  Die handhawing van konsekwente dissipline is deel van die hierdie opvoedingstaak.  Klas- en skoolreëls sal met u bespreek word.  As die kinders nie gehoor gee aan die reëls nie, word die klas ontwrig en kan die optimale ontwikkeling van elke kleuter se potensiaal nie plaasvind nie.  Dankie dat u ons hierin ondersteun.

Kleredrag

Groenie Nessie het ‘n T-hemp vir elke dag. Die hempies is te koop by Kwalitrix (op die skoolterrein).
Kontak gerus vir Annelicia by 066 119 4835. Merk alle klere duidelik.
 
Maandae: Rooi
Dinsdae: Oranje
Woensdae: Geel
Donderdae: Groen
Vrydae: Blou
 
U kan ook skryfbehoeftes en die pakkette by
Kwalitrix aankoop of bestel.

Vakansieskool

Ons volg nie ‘n akademiese program tydens die vakansieskool nie.  Die kinders moet ook geleentheid kry om ‘n bietjie te rus.

Die kleuterskool sal tydens amptelike departementele skoolvakansies oop wees.  

NB: DAAR IS GEEN VAKANSIESKOOL IN DIE DESEMBER-/ JANUARIE VAKANSIE NIELET ASSEBLIEF DAAROP DAT ONS GESLUIT IS OP PUBLIEKE VAKANSIEDAE, ASOOK OP AMPTELIKE SKOOLVAKANSIEDAE WAT IN DIE SKOOLKWARTAAL VOORKOM. 

Ontbyt en verversings sal steeds verskaf word, u moet net middagete voorsien. Net leerders van Groenie Nessie wat vir die “Voldag / halfdag: vakansie ingesluit” -opsie betaal kan geakkommodeer word.  Geen laerskoolleerders of kinders van ander skole sal toegelaat word nie. 

 

Kommunikasie

Ons kommunikeer SLEGS deur WhatsApp / SMS / epos  met die ouers. Indien u selnommer / eposadres verander, vra ons dat u ons onmiddellik in kennis sal stel.

Medisynebeleid

Ons mag volgens die wet geen medikasie by die skool hou nie – nie eens ‘n pynstiller soos Panado nie. Ons gee egter met graagte vir u kind voorgeskrewe medikasie op die volgende voorwaardes:

  • die medikasie moet vir die juffrou by die hek gegee word en nie in die tasse gestuur word nie;
  • daar moet duidelike geskrewe riglyne van toediening by die medikasie wees;
  • die medikasie moet in ‘n klein inspuiting opgetrek wees, (in ‘n klein bakkie met ‘n deksel) sodat ons dit net kan toedien;
  • alle medikasie moet gemerk wees met u kind se naam op.

Snoepie

As deel van ons fondsinsameling en ook om entrepreneurskap te bevorder, hou ons op gekose Vrydae snoepie. Die koste daaraan verbonde is R200-00 per kind vir die jaar.

Snoepiegelde moet eenmalig aan die begin van die jaar inbetaal word by die kantoor. Die kinders wat op snoepie-beurt is, kry ‘n beurt om op ‘n Vrydag 10 snoepiepakkies te “verkoop”. Daar word kwartaalliks ‘n snoepielys uitgegee sodat u weet wanneer u op snoepiebeurt is – dit sal een keer per kwartaal wees.